Today's Date

May 20, 2019

Damestouch

Damestouch
Damestouch_1

’n Oud-Eendragter het op ’n maal in ’n ou Vires Unitatis die spektakel so verwoord: “Met vurige kyke staar die twee groepe amasones mekaar aan, terwyl hulle hul ferm spiere opwarm. Vandag is die groot dag. Vandag sal beslis word wie die beste van die bestes is. Gemotiveerd en met die wil om te wen, betree hulle die slagveld – en sak kniediep in die modder weg.”

Alhoewel Damestouch al baie moes trotseer soos dit wat hierbo beskryf is, het dit nog elke jaar vanaf die toernooi se aanvangs in 1981 ’n plekkie op die Eendrag-kalender gehad. Hierdie jaar was natuurlik nie net bekend vir die begin van Damestouch nie, maar ook die aftrede van die legendariese huisvader van Eendrag, Oom Bun Booyens. Wat dan nou beter om sy bydrae tot Eendrag se karakter te vier as om Stellenbosch se dames vir ’n aand lank skouspelagtige touchies te laat speel op die Bun, die grasperk voor die koshuis wat na hom vernoem is?

Daardie eerste toernooi in 1981 was die breinkind van ene mnr. Anton Els. Alhoewel sommige tradisies ’n tyd neem om op die been te kom, het Damestouch van meet af gewys dat dinge by Eendrag ietwat anders werk. Alle dameskoshuise het in daardie eerste jaar deelgeneem en die touchies is afgerond deur ’n mej. Eendrag kompetisie ook te hou waar die dames talente van ʼn ander soort kon tentoonstel. Hierdie spesifieke talent was eintlik maar aanwesig by albei kompetisies. Soos ’n aanhaling langs ’n foto van ses Aurora meisies wat gebuk staan met hul koshuis se naam uitgespel oor hul agterstewe lui: “Wie sal sop eet met sulke bene daarin?”

Soos met die meeste gebeurtenisse op kampus, is die advertensieveldtog van Damestouch uiters belangrik om te verseker dat studente in hul duisende na die Bun stroom. Op hierdie gebied het ’n sekere taakspan uitgestaan deur ’n innoverende nuwe bemarkingstaktiek te onthul. Die plakkate wat op bome regoor kampus opgesit is, was glo so onwettig dat Kampusbeheer dit afgehaal het voordat enigiemand dit te siene kon kry. Eendrag het gesorg vir genoeg reaksie dat elke koerant die nuus regoor kampus versprei en het sodoende meer toeskouers as ooit tevore gelok. In die week voor die groot toernooi word een of twee Eendragters aan elke span gegee om hulle af te rig en seker te maak dat die dames darem die reëls mooi verstaan. Hierdie is natuurlik ook ʼn gulde geleentheid vir die Eendragters om met Stellenbosch se mooistes kennis te maak en om te belê in die huisdanse van die toekoms. Watter taak gewoonlik prioriteit aanneem hang maar af van afrigter tot afrigter. Dit was eens ’n gewoonte om as openingswedstryd Eendrag se huiskomitee teen die Oumanne te laat speel om die meisies ’n standaard te gee waarna hulle kan streef in hul eie wedstryde. Daar was ook in die jare negentigs ’n wedstryd tussen die seksies van Prostraat en Sensasie (wat tans as Ondergang bekendstaan), wat in daardie jare ’n groot mededingendheid tussen mekaar gehad het.

Die toernooi het al vele wenners gesien oor die jare, maar sekere koshuise blyk om beter wenrekords te hê as ander. In die vroeër jare was Huis ten Bosch die koshuis met ’n aptyt vir wen. Deesdae is dit Serruria wat die spelpeil bepaal en hulself telkemale onder die gunstelinge bevind. Pryse wissel van jaar na jaar, maar die meeste van die tyd is dit kenmerkend van studentwees. Dit is ook net op so geleentheid wat pryse soos ’n pakket Hunters Gold en ʼn ruiker rooi rose met mekaar versoen kan word soos in 1994. Hierdie tipe pryse is seker voorspelbaar as in gedagte gehou word dat die borge wat die toernooi moontlik maak meestal drankhandelsmerke is. Natuurlik skep hierdie borge ook genoeg insentief vir kampus om hulself te kom geniet by Eendrag. Die touchies was aanvanklik afgerond deur die mej.Eendrag-spektakel, alhoewel ’n paar ander opsies oor die jare uitprobeer is. Sokkies is gehou om diegene wat hulself nie moeg genoeg gemaak het op die veld nie te laat sweet op die dansvloer. Eendrag het op die ou end weer teruggekeer na sy herkoms en die Miss Untouchable-kompetisie is deesdae bykans ewe hoog aangeskrewe as die touchies self.

Damestouch_2

Die kompetisie word al van sy aanvang gesien as ’n toonvenster vir Eendrag op kampus buiten die normale Karnaval/JOOL/MAD2-bedrywighede. Natuurlik voel sommige Eendragters ook dat dit ’n gulde geleentheid is om hulself ook ten toon te stel. Twee Eendragters het eenmaal besluit dat die verrigtinge bietjie opgekikker moes word en het met vermommings aan kaal genael oor die speelveld. Blykbaar was die dames se reaksie van so aard dat hulle hande slegs tot by hul monde kon styg, maar ongelukkig nie so ver soos hul oë nie. Die twee het hulle ook misgis en bietjie te na aan hul vriende verbygehardloop, wat hulle met goed uitgevoerde tekkels op die grond neergesit het. Die impak het ongelukkig ook hul vermommings laat skuif en hulle moes later vir hul dade verantwoording doen by ’n interne tugsaak. In 2003 is daar ook ʼn geïmproviseerde weergawe van die Full Monty uitgevoer om nog meer skouspel by die verrigtinge te voeg.

Die beste voorbeeld van Eendrag se trots aangaande hierdie geleentheid het egter in 2001 te voorskyn gekom. Sonder enigiets wat naastenby die aandag kry wat Damestouch kry, het ons bure uit jaloesie besluit dat hulle ’n stokkie voor verrigtinge moet steek. Die aand voor Damestouch is die hele Bun vol glasstukke gestrooi sodat enige touchies die volgende oggend na ’n onmoontlikheid gelyk het. Eendragters het egter nie so maklik opgegee nie en klasse is voortaan afgestel om met ʼn spanpoging te verseker dat elke glasstukkie opgetel sou wees teen die tyd wat die toernooi sou begin. Alles het onveranderd volgens plan verloop.

Eendragters verduidelik aan buitestaanders dat tradisies soos Damestouch nodig is om gees te bou en samehorigheid te kweek. Onder mekaar is die eenvoudige rede egter dat sosiale skakelingsgeleenthede met die skonere geslag eintlik die rede is vir Damestouch se voortbestaan.

Arno Schoonbee