Today's Date

October 17, 2018

History

History

Eendrag manskoshuis is 'n trotse en tradisieryke instelling waar daar sedert 1961 lewenslange vriendskappe gesmee word.

Die koshuis is in 1961 in gebruik geneem en die naam Eendrag is gekies om saam te val met die Republiekwording en die land se leuse. Die argitek het "eenheid" as tema vir sy ontwerp geneem: 'n groot binneplein vir bymekaarkom, 'n sentraal geleë ontspanningsaal, stoepe vir elke seksie om saam te kuier, en die huisvader se huis as deel van die koshuis.

'n Mens hoef maar net na die binnedeur van die hangkas in elke kamer te kyk om die name te sien van manne wat diep spore getrap het op Stellenbosch en vandag hul plek in die beroeps- en sakewêreld volstaan. Die koshuis het die afgelope 50 jaar in gees en naam gegroei tot die voorste manskoshuis op Stellenbosch met 'n sterk karakter en eie identiteit.

Eendrag is veral bekend vir sy akademiese prestasies maar presteer ook goed op die sportveld. Jaar na jaar lewer Eendrag puik sportmanne wat die Huis se naam hoog hou deur Maties te verteenwoordig in rugby-, hokkie-, tennis- en vele ander sportspanne. Eendrag is ook bekend vir sy skouspelagtige Vensters gedurende JOOL, gewaagde strooptogte op dameskoshuise en stylvolle en gewilde danse. Op kultuurgebied is Eendrag ook die leidende koshuis en spog met die beste koshuiskoerant en die meeste Matie-redakteurs oor die afgelope 50 jaar.

Die koshuis het uitstekende fasiliteite wat insluit 'n gimnasium en pub, geriewe vir tafeltennis en pool, DSTV; asook twee rekenaar-netwerkpunte per kamer vir toegang tot die Internet.

Die Huis se 270 inwoners het 'n gebalanseerde uitkyk op die lewe en kombineer 'n lekker studentelewe suksesvol met sportaktiwiteite en akademiese verpligtinge. ‘n Eendragter kan op kampus uitgeken word deur sy karakter, die styl waarmee hy homself hanteer en die trots wat hy het vir sy koshuis.

Elke inwoner wat deel uitgemaak het van Eendrag die afgelope 50 jaar is trots om deel te wees van so ‘n hegte, glorieryke eenheid.