Today's Date

May 20, 2019

Residence Head

Dok

Na die verwelkoming van ons nuwelinge, ʼn huisvergadering, huisweek, wen van die mini-derby en vele ander aktiwiteite in en om die Huis, kan ek met reg sê dat Susan en ek welkom voel as deel van Eendrag. Tyd vir wonder wat om te doen of nie te doen nie, was daar nie. Soveel nuwe gesigte, name en intense belangstelling tydens informele geselsies in die quad, om die teekan en soms om die braaivleisvure het die spesiale broederskap tussen huidige en oud-Eendragters bevestig. Ek het gou besef dat, wat my gesiene voorvangers oor Eendrag geskryf het, waar is. Hier is jy omring deur ʼn groep uitgesoekte studente, vasberade om te presteer in alles wat hulle aanpak. Die balans tussen akademie, kultuur en sport is opvallend en gesond. Kortweg gestel, die omgewing is geskep vir elke huislid om te groei en homself voor te berei om soos menige voorganger ʼn beduidende merk op die lewe daarbuite te laat.

Eendrag is ongetwyfeld ʼn vlagskip op die Matiekampus en ek sien met opwinding uit om hierdie bate saam met sy leiers in die volgende era te bestuur. Nuwe uitdagings en veranderinge is ʼn gegewe. Die Eendrag-karakter het in die verlede telkens bewys dat vernuwing positief aanvaar word, sonder om die Eendrag-waardes prys te gee. Inklusiwiteit en innoverende denke was pasaangeërs in die suksesstories van Eendrag se verlede. Alle belanghebbendes, word deel en neem deel om nie net te verseker dat die Arend bly vlieg nie, maar dat hy altyd hoër en hoër sal beur!

Dr Pierre Viviers
Inwonende Hoof